Andries Bezuidenhout - Na Die Geliefde Land

Ek moet twee keer omdraai voor ek die hek vind
Dis met geroeste slot en ketting vasgebind
Die grensdraad is stukkend so ek klim sommer deur
Die naambord het tot naamloos in die wind verweer

Ek volg 'n toegegroeide oprit in 'n bloekomboomlaning
Vyeboord se takke is verwronge geraamtes
Familiekerkhof stene fluister nog die name
Van mense aan wie ek lank terug verwant was

Ek het hier kom stilhou vir 'n laaste keer
Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer
Ek dokumenteer wat die tyd beslis
Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is

Steenbok verstar en vlug uit die klipskuur
Ek vind die pad na die opstal langs wat oor is van die kraalmuur
Aalwyn is meer gehard as 'n roostuin
En kaktus hou langer as roosmaryn

Rankers in die balke, vinknes teen die skoorsteen
Onkruid wat doodluiters deur vloerplanke beur
Porseleinteëlskerwe langs die badkamerdeur
Die nok is geknak, die mure verweer

Ek het hier kom stilhou vir 'n laaste keer
Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer
Ek dokumenteer wat die tyd beslis
Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is

Ek volg my spore terug na die motor langs die teerpad
Al teken van mense hier rond, 'n plastieksak
Wat windaf moes waai en teen 'n draad kom hande klap
Vir die pelgrimsprosessie van 'n verloopte hart

Ek het hier kom stilhou vir 'n laaste keer
Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer
Ek dokumenteer wat die tyd beslis
Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is

Written by:
Andries Bezuidenhout

Publisher:
Lyrics © O/B/O DistroKid

Lyrics powered by Lyric Find

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout

View Profile