Andries Bezuidenhout - Aasvoëls bo Lengenhovenpark

'N Driebeenjakkals het ʼn lam gevang
By die laaste plaas voor Loxton se dam
Aasvoël wag vol begeerte op die windpomp
Aan stomende wolke hang nog ʼn klomp
En op wat nou nog oor is van telefoondrade
Sit die gulsige oë van witborsrawe

Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik
Julle vreters van aas, kom pik pik pik
Druk jou snawel tussen sening en been
Jy moet pik pik pik as dit karkasse reën

Splinternuwe Prado het ʼn steenbok getrap
Op Williston en Carnarvon se pad
GPS gee koördinate van die feesmaal
Vir vos se kind om die buit te kom haal
Aan die lug wat oorkook, die verwagte aasvoël
En rawe op die koop toe voltooi die skool

Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik
Julle vreters van aas, kom pik pik pik
Druk jou snawel tussen sening en been
Jy moet pik pik pik as dit karkasse reën

'N Middelklasfamilie het bankrot gespeel
In Langenhovenpark se beste deel
Prokureurs, ouditeurs en al die ander teurs
Vergader in dasse vir elkeen se deel
Die fiskaal fladder in met ʼn hofbevel
Wat die terme van die aasmaal stip uitspel

Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik
Julle vreters van aas, kom pik pik pik
Druk jou snawel tussen sening en been
Jy moet pik pik pik as dit karkasse reën

Jou adres jou skakel in die voedselketting
Roofdier, aasdier, of prooi se nering
Oogtande, snawel of herkouer se bek
Pik jy aan oorskiet, of breek jy ʼn nek?

Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik
Julle vreters van aas, kom pik pik pik
Druk jou snawel tussen sening en been
Jy moet pik pik pik as dit karkasse reën

Written by:
Andries Bezuidenhout

Publisher:
Lyrics © O/B/O DistroKid

Lyrics powered by Lyric Find

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout

View Profile